Skryf nou in vir Noordvaal se Kultuurnaweek

Inskrywings vir Noordvaal Voortrekkers se Kultuurnaweek sluit Maandag. Ons nooi elke staatmaker, offisier, heemraadslid en Voortrekkervriend van Noordvaal Voortrekkers en jul gesinne uit om saam met ons by Udolpho te kom kuier vir ʼn onvergeetlike kultuurnaweek. Hierdie is ʼn lekker rustige geleentheid vir Voortrekkergesinne om te kom ontspan op die oewer van die Vaalrivier, gesellig te kuier onder die sterre om ʼn bosveldvuur en Voortrekkers van regoor Noordvaal beter te leer ken. Deur die loop van die naweek is daar ʼn verskeidenheid kultuuraktiwiteite waaraan gesinne kan deelneem, onder meer tradisionele danse, tradisionele speletjie, Afrikaanse idiome, ensovoorts. Dan wag daar ʼn kultuurervaring, wat in elkeen se mond gaan ontplof propvol tradisionele geure: Elke ete is ʼn tradisionele Afrikanerdis. (Dit gaan nie aardige disse wees nie, maar jy gaan rol nadat jy smaaklik daaraan gesmul het en die laaste bietjie sous uit jou bord gekrap het.)

Daar word Vrydagaand vanaf 19:30 tot 21:30 ʼn verrykingsessie vir spanoffisiere aangebied. Gedurende hierdie sessie gaan ons bietjie kyk na die uitdagings wat ons in die gesig staar om Voortrekkers deur middel van ʼn gekombineerde benadering (fisies en digitaal) aan ons lede aan te bied. Spanoffisiere wat graag meer wil kom leer oor watter hulpmiddels beskikbaar is en hoe beplan mens so ʼn aanbieding, is meer as welkom om Vrydagaand by ons aan te sluit.

Moenie hierdie geleentheid misloop nie! Klik hier en skryf sommer nou dadelik in.

Scroll to Top